Skip to main content

+27 011 749 7300

Jarrahweg 118, Benoni LH, Gauteng Petit 1512

Onderversekering: Die Groot Rede Waarom Eise Gedeeltelik Uitbetaal Word

Baie polishouers ontdek eers ná skade of verlies dat hul bates nie teen die korrekte waarde verseker was nie. Onderversekering kan daartoe lei dat ’n versekeraar slegs ’n gedeelte van ’n eis uitbetaal. Deur jou dekking gereeld te hersien, tred te hou met vervangingswaardes en professionele advies in te win, kan jy verseker dat jou bates voldoende beskerm is wanneer jy dit die nodigste het. 

 

Is Jou Huis Reg Verseker? Die Fout Wat Jou Duisende Kan Kos

Baie Suid-Afrikaanse huiseienaars maak dieselfde duur fout: Hulle verseker hul eiendom vir die verbandbedrag en nie vir die werklike herboukoste nie. 

Willem Smit van Tempo Finansiële Dienste verduidelik waarom dit gevaarlik is, wat dit kos om vandag te bou, en hoe jy kan seker maak jou dekking is voldoende. 

Moenie wag vir ʼn ramp om dit uit te vind nie.

 

Kyk | Hoekom betaal versekeraars nie jou volle eis uit nie?


Uittreksel: Soms ontdek jy eers ná skade of verlies dat jou huis of besittings nie voldoende verseker was nie. Hier is waarom dit gebeur en hoe jy dit kan voorkom.


Baie mense besef eers ná skade of verlies dat hul versekering nie voldoende was nie. Dit gebeur dikwels wanneer ʼn huis, voertuig of ander waardevolle bate vir minder as sy werklike vervangingswaarde verseker is. Die gevolg? Wanneer jy eis, betaal die versekeraar soms net ʼn gedeelte van die bedrag uit.


Volgens Willem Smit, besturende direkteur van Tempo Finansiële Dienste, is dit een van die algemeenste probleme wat by batebeskermingsversekering voorkom.


'ʼn Huis kan byvoorbeeld R2 miljoen werd wees, maar net vir R1 miljoen verseker wees. Die versekeraar beskou die eiendom dan as net halfpad verseker en betaal dikwels ook net die helfte van die eis uit,” verduidelik Smit.


Hierdie beginsel staan as “awery” bekend en geld nie net vir woonhuise nie, maar ook vir ander versekerde bates soos voertuie, juweliersware en huishoudelike inhoud.


Die probleem ontstaan dikwels wanneer mense hul eiendom of besittings se waarde self beraam sonder om tred te hou met stygende vervangings- en boukoste. In ʼn tyd waar materiaal- en arbeidskoste vinnig verander, kan ʼn bate maklik onderverseker raak sonder dat die eienaar dit besef.


Smit meen verbruikers moet eerder fokus op die koste om ʼn bate te vervang as op wat hulle destyds daarvoor betaal het.


“Te veel mense jaag laer premies na en ontdek eers met ʼn eis dat hulle nie reg verseker was nie. Dan is dit ongelukkig reeds te laat om regstellings te maak.” 


Hoe om te voorkom dat jy onderverseker is


Kenners beveel aan dat huiseienaars en polishouers hul dekking gereeld hersien om seker te maak dit weerspieël die werklike waarde van hul bates.


Hier is ʼn paar praktiese stappe wat kan help:


• Hersien jou eiendom se waarde jaarliks en pas jou dekking aan waar nodig. 

• Laat juweliersware gereeld professioneel waardeer. Die montering van diamante in ringe behoort ook gereeld nagegaan te word.

• Hou aankoopkwitansies en handleidings van waardevolle items veilig. 

• Bou ʼn langtermynverhouding met ʼn geregistreerde finansiële raadgewer. 

• Vermy dit om bloot die goedkoopste premie te kies sonder om die dekking deeglik te verstaan. 


Hoewel ʼn laer maandelikse premie aanloklik kan wees, kan onvoldoende dekking op die lang duur baie duurder wees wanneer iets skeefloop.


Die belangrikste vraag is dus nie net óf jou bates verseker is nie, maar of hulle teen die regte waarde verseker is.


Vir meer inligting of om jou huidige dekking te hersien, kontak Tempo Finansiële Dienste by 086 184 66 44